Bouwer Bosch reik Musiekvideo uit vir ‘Sy Klink soos Lente’

Bouwer Bosch reik Musiekvideo uit vir ‘Sy Klink soos Lente’

Die film handel oor Ben (Stiaan Smith), ‘n selfvoldane werktuigkundige wat een aand vir Linda (Amalia Uys), ‘n beeldskone en uitgesproke ouditeur, in ‘n kroeg ontmoet. Hulle begin gesels en daar is onmiddellik wedersydse belangstelling, maar wanneer Linda vir Ben vra wat hy vir ‘n lewe doen, jok hy en sê hy dat hy die hoofsanger in ‘n band is. Want Ben is nie net uit Linda se liga nie, haar pa is ook sy baas. Die film word op 30 September 2016 landswyd uitgereik.

Die liedjie SY KLINK SOOS LENTE is deur Bouwer Bosch, Dawie de Jager en Roan van As geskryf. Die doel was om ‘n liedjie te skryf wat Ben in die fliek vir Linda skryf. Bouwer het aanvanklik ‘n ander liedjie geskryf as die eerste pitch vir die titelsnit, maar het toe besef hy gebruik die verkeerde aanslag vir die storie. Die koor van die oorspronklike liedjie het egter behoue gebly en Dawie en Roan het die res van die poësie in die verse van SY KLINK SOOS LENTE geskryf.

“Dit was ‘n ongelooflike manier om ‘n liedjie te skryf omdat ons mekaar vertrou en almal die belange van die film eerste wou stel. Die liedjie is opgeneem en ons gaan die video vrystel, maar ek en Roan het nog nie eers ontmoet nie. Dit is hoe liedjieskryf deesdae werk, wonderlike idees wat gedeel en elektronies verbeter word. Dit was ‘n eer om saam met Dawie en Roan te kon skryf.” – Bouwer Bosch

Die video is deur Werner Botha verfilm en WJ van den Heever en Bouwer Bosch het die regie daarvan op 12 Julie 2016 in ‘n leë woonstel in Randburg behartig. Bouwer wou op iets treffend en eenvoudig fokus en het gevolglik besluit om ‘n hele vertrek in die woonstel met plakkate vir die fliek te bedek omdat die ontwerp van die plakkate maklik op die oog is, die liedjie maklik op die oor is en die minder-is-meer benadering altyd doeltreffend is.

Bouwer sê, “Ek dink luisteraars gaan die liedjie nie uit hulle koppe kan kry nie. Sy Klink Soos Lente is ‘n great fliek en daarom het ons nóg beeldmateriaal uit die film vir die video gebruik wat nie in die lokprent is nie. Dus gee ons geleidelik meer weg soos ons nader aan die uitreiking van die film kom. Ek dink almal sal aanklank vind by die mooi storie wat in die verse van die liedjie vertel word.”

SY KLINK SOOS LENTE word op 30 September 2016 landswyd in rolprentteaters uitgereik.

Lees meer oor die fliek hier.

Comments are closed.