Marno van der Merwe Stel Nuwe Musiekvideo Bekend

Veelsydige kunstenaar, Marno van der Merwe, se splinternuwe musiekvideo – Uitverkoop aan ons - is pas bekendgestel en die tema is passie en toewyding in ’n verhouding. Kyle White is die regisseur en Marno sê dat dit ’n groot voorreg was om saam met hom te werk.

Kyk die video hier:

Marno het van dag een af diep spore kom trap in die harte van aanhangers regoor die land. Vandag is dié 31-jarige blondekop ’n gevestigde naam in die vermaaklikheidsbedryf met talle verhoog-, TV- en fliekrolle op sy kerfstok. Hy het ook onlangs TV-aanbieder en solo-kunstenaar by sy, reeds indrukwekkende, CV gevoeg en het nog hope planne en drome vir die toekoms.

Alhoewel hy geen formele teater-opleiding of -ondervinding gehad nie, was dit nog altyd sy droom om mense te vermaak en het hy reeds van jongs af begin gaan vir oudisies. Sy loopbaan het begin vlam vat, toe hy in 2008 uiteindelik ’n rol in ’n Barnyard-produksie losgeslaan het. Dit was so ’n groot sukses dat nog tien produksies daarna gevolg het saam met dieselfde maatskappy. Hierdie ondervinding het hom ook gehelp om voor te berei vir verskeie verhoogproduksies in Pretoria Staatsteater, waaronder Ester (2011), Dawid (2012), Jesus (2013) en Liefling (2013).

 

Marno se talent is egter nie net beperk tot die verhoog nie en in 2011 maak hy sy debuut in die kykNET-dramareeks, Hartland, en in 2012 sy buiging op die silwerskerm in die rol van Frank Fouché in die lokettreffer Pretville. “Ek het die rol van Frank vreeslik geniet omdat ek nog altyd daai tipe ding wou doen en Frank het geen beperkings nie. Ek hoop ek kan hom weer eendag speel en met ʼn groter storielyn. Ek dink hy sal altyd ’n kyker-gunsteling wees”, vertel hy trots. Sy indrukwekkende vertolking van die opkomende sanger met psigopatiese neigings in Die Ballade van Robbie de Wee het groot opslae gemaak in 2013 en hom ’n gesogte keuse gemaak onder film- en televisieregisseurs. Twee jaar daarna kry hy die rol as hoofkarakter, Dillion Pretorius, in die SABC-reeks Roer Jou Voete, wat vir ses maande lank op die kassie was en word hy ook ’n huishoudelike naam as die sanger, Brad Jooste, in die eerste (2014) en tweede seisoen (2016) van die kykNET-reeks Sterlopers. In Sean Else se dramatiese Anglo-Boereoorlog fliek, Modder en Bloed, vertolk hy ook die karakter JJ Ratel Wessels. “Ek is baie trots op dié fliek,” sê Marno, “veral omdat ek nog altyd graag in ’n geskiedkundige storie wou speel. Dat die fliek boonop iets van ons eie geskiedenis vertel, maak dit net ’n groter bonus. Ek hou daarvan om rolle met diepte te speel, wat vir my ʼn uitdaging is en waarmee ek myself kan verryk.

Cover 2

Marno is ook onlangs aangewys as die aanbieder van die kykNET-koorkompetisie, Varsity Sing, waaroor hy baie opewonde is. “Dit is iets heeltemal nuut vir my en ’n lekker uitdaging om voor ’n lewendige gehoor op te neem. Twaalf universiteitskore neem deel om as die beste koor vir 2016 gekroon te word. Die beoordelaars bestaan uit die beste koorkenners en –dirigente in die land en daar word elke maand twee episodes geskiet. Ons behoort teen Oktober klaar te wees. Dit is vreeslik lekker om nuwe mense te ontmoet en iets anders te doen,” verklap hy.

Alhoewel hy mal is oor toneelspeel, was sing nog altyd sy grootste passie en het sy kinderdroom in 2016 waar geword, met die uitreik van sy debuut-album, O My Liefde. “Dit bestaan uit lekker-luister-musiek wat mense emosioneel sal raak,” vertel Marno. Hy en die musiekvervaardiger Harshin Reddy het saam hieraan gewerk, geskryf en opgeneem. Volgens hom is die album ’n mengsel van alternatiewe en popmusiek. Hy het ses van die liedjies self geskryf, vyf saam met Harshin Reddy en hy doen ook sy eie weergawe van Steve Hofmeyr se Deur jou Vingers. “Ons werk al twee jaar lank aan die album en ek skaaf al vir tienjaar lank aan my skryfvernuf. My lewens- en liefdesondervinding was die inspirasie agter die lirieke en ek hoop dat luisteraars hiermee sal kan identifiseer. Elke liedjie het vir my baie spesiale betekenis, maar ek dink dat ‘Jy Sal Oorwin’ nogal gewild gaan wees omdat dit positief is en mense graag sulke liedjies wil hoor,” sê hy. Die album is nou te koop op www.marno.co.za, iTunes, Amazon, Google Play en by konserte.

Die eerste enkelsnit, Uitverkoop aan ons, is baie goed ontvang en kan gereeld oor die radio gehoor word. Dié liedjie, met musiek en liriek deur Marno, openbaar sy siening oor die liefde. Hier sing hy: “Ek sien jy skets jou storie. Moenie teken sonder my nie.”  “Liefde is iets wat nie ligtelik op geneem moet word nie, want dit is veronderstel om permanent te wees”, verduidelik hy. “Dit is amper iets soos ’n kontrak. As jy geteken het, is dit bindend. Maar vanuit ’n liefdesoogpunt is dit vrywillig bindend.” Dan gaan die liedjie voort met “hou ons storie op jou bors, ek is uitverkoop aan ons”. “Ek dink elke mens moet sy eie, unieke liefdesstorie voortdurend koester,” gee Marno sy mening, “want as jy werklik, werklik lief is vir iemand, is jy sold out aan daardie persoon.”

DIE MAN AGTER DIE TALENT

Marno was sommer nog ’n klein kannetjie by Laerskool Rustenburg toe hy begin musiek maak het. Dit kon ook nie anders nie, want met ’n musiekonderwyseres as ma, bruis die musikale bloed as’t ware deur sy are. Op tienjarige ouderdom was hy klaar vaardig agter ’n dromstel waarna hy homself leer kitaarspeel het. Tydens sy hoërskooldae het hy ook die lofprysingsdienste by verskeie kerke in sy tuisdorp gelei. Behalwe die behoefte om mense te vermaak, was dit destyds vir dié sportuitblinker van die Hoërskool Rustenburg ook ’n droom om eendag professionele rugby te speel. “Ek het wel in 2005 en 2006 vir die Falcons in die eerste liga uitgedraf, maar toe wen die vermaaklikheidswêreld,” vertel Marno. “Ek het in daardie tyd ’n Teologie-kursus by die Lewende Woord Bybel Kollege geneem, maar my passie vir die verhoog het oorgevat en ek moes ’n keuse maak.” Hy glo aan ’n balans in sy lewe, vertel die sanger en akteur. “Daarom neem ek steeds aktief aan sport deel. Ek het ’n nommer 10-voorgee op die golfbaan en doen gereeld rotsklim.”  Marno is ook ’n kranige perderuiter wat sy Noordwes-provinsialekleure in die vroeë 2000’s  in gymkhana verwerf het, ’n sport waaraan hy steeds deelneem. “Ek ontvang ook tans opleiding in die Krav Maga-gevegskuns waarna ek graag ’n instrukteur in dié sport wil word.”

IMG_5301 copy

Reis is nog ’n passie van dié jong akteur. Hy probeer om elke jaar ’n nuwe plek of land in die wêreld te ontdek. Een van die juweeltjies op sy ontdekkingsreise is Slovinië, ’n klein landjie in Sentraal Europa met net sowat 2-miljoen inwoners. “Omdat min mense van hierdie idiliese land, wat aan Italië grens, weet, is daar bitter min toeriste,” vertel Marno. “Dit maak die plek minder kommersieël en meer vry.”  Die berge en ski-oorde vorm alles deel van die ongerepte natuurskoon wat hom aantrek. Sy lewensleuse is immers: “hou aan aanhou”. “Ek hou van besig wees en om uitdagings aan te gryp,” verduidelik hy. En omdat hy weet dat hy in ʼn moeilike bedryf werk, sit hy sy hele hart en siel in sy werk in en bly dit sy hooffokus. Hy is ook nie bang om iets nuuts te probeer nie. “Dit is elke keer ’n hoogtepunt wanneer iemand my as goed genoeg ag om ’n karakter te speel of iewers op te tree,” sê hy. Wat min mense egter van hom weet, is dat hy eintlik ’n introvert is. “Ek’s ’n introvert met ’n ekstrovertiese talent!” lag hy.

As jy hom vra wie sy rolmodel is, sê hy dat daar baie mense is wat hom inspireer en dat mense en die lewe hom al baie geleer het. Dit help ook nie om regrets te hê nie want alles werk uit soos dit moet. “Die beste raad wat ek al gekry het, is dat mislukkings ʼn vervaldatum het en dat jy altyd jou vrese in die oë moet kyk sodat jy dit stuk-vir-stuk kan afbreek. Ek volg en doen gewoonlik maar wat my hart sê, anders werk dinge gewoonlik nie goed uit nie.” Elvis Blue is vir hom ’n groot inspirasie en hy sal ook nog graag saam met Karen Zoid en Steve Hofmeyr wil werk, omdat hulle musiek die tipe musiek is wat hy self wil skryf en sing.

Dit is vir hom vreeslik lekker om dit te kan doen waarvoor hy lief is, alhoewel die bedryf soms onvoorspelbaar kan wees. Hierdie aantreklike man, wat vir Will Ferrel-flieks lag en ʼn traan in sy oog kry wanneer iemand ʼn triomfantlike oomblik het, het tans niks vas in die pyplyn vir die toekoms nie, maar beplan nog flieks, verhoogproduksies, CD’s en ’n gesin vir die toekoms. Die vermaaklikheidsbedryf het hom geleer om te geniet wat hy doen en nie net te fokus op sukses nie... so vir nou leef hy in die oomblik en maak hy die beste van die geleenthede wat oor sy pad kom.

LIEDJIES OP SY DEBUUTALBUM

  1. Jy Sal Oorwin
  2. Sy
  3. Uitverkoop aan ons
  4. Deur jou vingers
  5. Huil vir my
  6. Hartklop
  7. Vuurbrand
  8. Ek wil by jou wees
  9. Kalm jou army
  10. Huis heir by jou
  11. O My Liefde
  12. Sonder Woorde

VINNIGE FEITE
Gunstelingtydverdryf
Om tyd saam met vriende en familie te kuier en te braai

Ander belangstellings
Gholf en rugby

Gunstelingkos
Pizza

Gunstelingsanger
Jon Bon Jovi

Gunstelingakteur
John Cusack

Gunstelingklere
Denim

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/marnovdm/?fref=ts
Twitter: @marnovdmerwe
Webblad: www.marno.co.za
Instagram: MARNOVDMERWE

 

Comments are closed.