Noem My Skollie – Titel-lied deur Afrikaanse Hip-hop kunstenaar bekendgestel

Noem My Skollie – Titel-lied deur Afrikaanse Hip-hop kunstenaar bekendgestel

Die titel-lied vir die baanbrekersfilm wat die oorwinning van die menslike gees vier en gebasseer is op die ware verhaal van ‘n jong man in die 1960’s wat ‘n storieverteller in die tronk word, is pas vrygestel!

Die “Beatmaker STUWI W” is verantwoordelik vir die musiek van die liedjie en die lirieke en uitvoering daarvan deur die baie bekende Afrikaanse Hip-hop kunstenaar, HemelBesem.

HemelBesem het reeds as onafhanklike vervaardiger nie minder as vyf Afrikaanse Hip-hop albums vrygestel onder andere  “Dink ‘n Bietjie”, “Auto-Bio-Grafie”, “Die Worcester Standard”, “Evil Is Maklik” en die mees onlangse “Uwilisimakliki”.

Hy het al oor die jare met talle Afrikaanse Hip-hop en “rock” kunstenaars saamgewerk en is trots om as ‘n “edutainer” bekend te staan.  Hy is baie betrokke by gemeenskapsprojekte en tree gereeld by skole op.  Hy is ook betrokke by die FAS (Fetale Alkoholsindroom) bewusmakingprojekte en is ook ‘n ambassadeur vir Kullid – ‘n organisasie wat bemagtiging van kleurling gemeenskappe in Suid-Afrika nastreef.

Hy beskryf sy betrokkenheid by NOEM MY SKOLLIE  en die skryf van die liedjie as een van die grootste hoogtepunte in sy loopbaan en sê:  “Die proses om die liedjie te skryf was langer as gewoonlik omdat dit moeilik was om die era met Hip-hop te kombineer, maar na die eerste probeerslag het dit perfekte sin begin maak.  Die liedjie is die storie van die karakter AB, Mnr. John W. Fredericks en myself asook die uitdagings van die demografie wat ons verteenwoordig.  Ek hoop mense sal deur die metafore en vergelykings kan luister en die unieke ‘struggle’ van kreatiwiteit kan sien waarvandaan ek kom.  Ek glo die fliek gaan mense se harte en gedagtes aanraak en dat my liedjie dieselfde sal doen.”

Die vervaardigers van die fliek het HemelBesem gevra om ‘n liedjie vir die einde van die fliek te skep wat ‘n tipe van ‘n kenmerk vir die fliek sal word en sal kan inskakel by Kyle Shepherd se musiek in die fliek wat die 1960’s periode van die fliek met vandag se musiek kombineer.  HemelBesem speel ook die rol van “Ghost”, die leier van die 26’s bende in die fliek.

Die film wat afspeel op die Kaapse Vlakte en in Pollsmoor-gevangenis is gebaseer op die lewe van draaiboekskrywer John W. Fredericks.  

Noem My Skollie is ’n grootskerm-rolprentervaring wat kykers sal meevoer na ’n wêreld op die Vlaktes wat nog nooit op so ’n outentieke manier uitgebeeld is nie en is deurlopend onderhoudend en vermaaklik en lewer ’n gewedlige sterk emosionele impak.  Die fliek dra die temas van vriendskap, verraad, vergifnis, aanvaarding, die behoefte aan ’n beter lewe, hoop en liefde oor. Die titel van die film sinspeel op die ou gesegde dat ’n mens niemand op hulle voorkoms moet oordeel nie en bevorder die opvatting dat elkeen ’n talent het, selfs al is dit somtyds moeilik om te vind en is daar moontlik ‘n prys daaraan gekoppel.  

Noem My Skollie is vervaardig deur David Max Brown en Moshidi Motshegwa (Maxi-D Productions) in samewerking met M-Net, kykNET, die NFVF en die DTI en word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.  Die fliek première by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai op die 24ste Augustus 2016 om 20h00.

Sosiale media skakels:

Facebook:           www.facebook.com/NoemMySkollieFilm

Twitter:                @noemmyskollie

FOTO KREDIET: Lindsey Appolis

Comments are closed.