Touch Of Class Bereik Goue Status

Touch of Class het gedurende Maart 2016 hulle dubbel-album, getiteld, 100 DUISEND PERDE, uitgereik en het goue status verkope binne vyf maande bereik!

Die groep Touch of Class, met oorspronklike lede Deon van der Merwe en Ronell Erasmus, het in 1985 onstaan en was aanvanklik ook die begeleidende orkes vir Anneli van Rooyen, Manuel Escorcio en André Schwartz.

Hulle album, Ek en my meisie, wat gedurende 1992 die lig gesien het, het goue status bereik met 25 000 eenhede verkoop en het twee jaar later ook platinumstatus te bereik. Verskeie goue albums het gevolg, waaronder Bamboesbos, Stamp daai bene en Moenie worrie nie. Vier van Ronell Erasmus se geestelike albums, waaronder haar DVD en die album, Halleluja, het dubbel-platinumstatus (80 000 eenhede verkoop) bereik.

Deon van der Merwe se kitaaralbums, Kitaarboogie, Treffers van die Shadows, Crying guitar en ’n Huldeblyk aan Ricardo Bornman het ook goue status bereik. Vir laasgenoemde huldeblyk-album het hy ook ’n SAMA-toekenning ingepalm. Touch of Class het tot op datum 19 suksesvolle albums uitgereik.Cover Small

Na 23 jaar saam, het Ronell in 2011 besluit om haar slegs op haar geestelike loopbaan toe te spits. Gedurende hierdie tyd het Ruhan du Toit by Touch of Class aangesluit en tot op hede het hy en Deon reeds elf albums saam voltooi. Koffiefontein, Groep 2, Nostalgie, Lotzsa Smokie, A Touch of Classic, Stukkie van der Merwe 1, Stukkie van der Merwe 2, Classic Rock Project, Dans in die Reën en die Salute the Legends-reeks met onder meer Demis Roussos, Joe Dolan en Gé Korsten, is uitreikings waarop hulle baie trots is.

Ruhan sing reeds van kleins af en het sy eerste album opgeneem toe hy tien was. Op skool, het hy sowat 150 optredes per jaar behartig en aan talle musiekblyspele en ander konserte deelgeneem. Voordat hy by die groep aangesluit het, het hy vier solo-albums opgeneem en twee duet-albums saam met sy broer. Ruhan en Deon het besluit om Touch of Class in ’n nuwe rigting te stuur deur die gewone ‘tong-in-die-kies-liedjies’ te verander na ’n meer kontemporêre klank, met lirieke wat dieper betekenis het en met die hart praat. “Ons streef nogsteeds na veelsydigheid en het ’n energieke vermaaklikheidsfaktor, met Deon wat sy instrumentele vernuf ten toon stel op alles - van die elektriese kitaar tot die mandolien. Ruhan se veelsydige stem, wat oor meer as drie oktawe strek en van klassiek tot klassieke rock kan sing, help ons om aanklank te vind by die meeste gehore,” vertel hulle.

Die duo word ook gereeld gesien by groot konserte en feeste soos Classics is Groot en Innibos en word ook baie bespreek vir troues, korporatiewe funksies en optredes by ATKV- en ander vakansieoorde. Hulle het nog baie planne vir die toekoms, wat twee nuwe albums in die Salute the Legends-reeks, asook ’n DVD-opname en ’n musiekfees vir bejaardes insluit, en hulle sal ook graag saam met Mango Groove ’n weergawe van Sound of Silence wil opneem.

DIE NUWE ALBUM

In 2016 stel die groep ’n splinternuwe album vry met die naam 100 Duisend Perde, wat tans die nommer ses posisie beklee op RSG se Top20 en binne slegs ’n paar maande goue status bereik het. Die eerste enkelsnit vanaf hierdie dubbel-album, Ek steek my hand op (https://youtu.be/njQ68EuYnY4), is baie goed deur radiostasies en die publiek ontvang en het vir verskeie weke op die Top20-treffersparades van die land se grootste radiostasies gepronk. Die tweede enkelsnit, hulle weergawe van die treffer Sound of Silence (https://youtu.be/fQxG9E_Hf6Y) het sosiale media laat gons en is al deur meer as 500 000 mense op YouTube gesien. “Dit is vir ons ’n groot hoogtepunt dat die album in so ’n kort tydjie goue status behaal het. Die wegholsukses van Sound of Silence, wat vir ons ’n plek in die Classics is Groot-konsert, besorg het is nog ’n hoogtepunt. Dit was regtig ’n groot voorreg om voor ’n gehoor van 7 000 mense op te tree en ’n staande applous te ontvang,” sê Deon.

CD 1 bestaan uit negentien oorspronklike treffers, terwyl CD 2 veertien immergroen-treffers bevat, waarvan drie keurspelle is. 100 Duisend Perde is geskryf deur Michael de Lange en raak die patriotiese hart diep. Ek steek my hand op, geskryf deur Arri Opperman, maak jou trots, terwyl Roep die waarheid, geskryf deur Pierre Rossouw, en R.S.A., geskryf deur Elben Schutte, naasteliefde en altruïstiese kwessies in ons land aanspreek.

Liriekgewys trap die album diep spore en die melodieë is soet en vleiend op die oor. Ruhan vertolk die liedjies met hart en siel, wat sorg vir ’n hoendervleis-mooi eindresultaat. Die populêre ligterluim liedjies op CD 1 is liedjies soos Jou glimlag, Sal jy my stem kan hoor, Liefdesbeker, Briefie in ’n bottel en Sal ek jou ooit weer sien, wat bloot lekkerluister langarmtreffers is. Arri Opperman, Chris Brits en Rudi Claase het onderskeidelik hieraan geskryf. Liefdesliedjies, met dieper lirieke, is Ou skool liefde en Heroes of yesterday, geskryf deur Elben Schutte.

CD 2 bestaan uit al die treffers waarmee Touch of Class se vertolkings oor die jare al ’n verwagting by die publiek geskep het. Liedjies soos Sweet Caroline, Beautiful Noise, Heart, Grassade, Have you ever seen the Rain, Beautiful in Beaufort-Wes, You, Life is life en Bed of Roses is van die gunstelinge. Daar is drie liedjies wat dalk onontdekte pêrels is naamlik, Dance with me, Starlight en The blower’s daughter. Deon en Ruhan het hul eie unieke verwerkings van die liedere gedoen, wat aan hierdie liedjies ’n vars en nuwe aanslag gee.

DIE NUWE ENKELSNIT

Die nuutste enkelsnit, Sal jy my stem kan hoor, is pas bekendgestel en is reeds ’n gunsteling tydens optredes. “Mense, wat na die tyd met ons kom gesels, vra almal uit oor die liedjie en wil weet waar hulle dit kan kry,” vertel Deon. Hierdie goedvoel-liefdesliedjie, uit die pen van Arri Opperman, is spesiaal geskryf om Ruhan se stem op sy beste te laat vertoon en sodoende word die sterk lirieke eg en treffend oorgedra. “Sal jy my stem kan hoor wyk af van die gewone ‘bokkie-baby’ genre en is meer digterlik. Alhoewel die ritme steeds sterk en polsend is, is die melodieë harmonieus inmekaar verweef, sodat dit net so lekker luister as wat dit dans. Die lirieke is betekenisvol en sal luisteraars ’n bietjie laat nadink oor die onderwerp,” verklap hy verder.

Die duo werk tans ook aan musiekvideos vir 100 Duisend Perde en Dance with Me, wat in die nabye toekoms vrygestel gaan word.

Die boodskap van die nuwe dubbel-album is: “Ek is trots op my taal, my lewensfilosofie, waardes en herkoms!” Die album word bemark en versprei deur Coleske Artists en Paulo Azevedo en Arnold Coleske het ook waardevolle insette gelewer ten opsigte van die produksie en meng van die materiaal. Hierdie nuutste toevoeging, tot die skatkis van Suid-Afrikaanse musiek, is ’n móét vir elke musiekliefhebber se rak.

 


SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/touchofclassmusic/?fref=ts
Twitter: @Touchofclass123

NAVRAE

Besprekings
E-pos: toc.livemusic@gmail.com

Comments are closed.