Twee Grade van Moord

Twee Grade van Moord: Wat sal die liefde doen?

Die Suid-Afrikaanse film Twee Grade van Moord, wat die naweek op 22 Julie 2016 in teaters landswyd begin draai het, sien vir die eerste keer in dekades die geliefde akteurs Sandra Prinsloo en Marius Weyers saam op die grootskerm!

Die film speel af in die Kaap met die bekende regisseur Gerrit Schoonhoven aan die stuur daarvan.

Aleksa Cloete (Sandra Prinsloo), is ’n bekende Kaapse sielkundige met ’n topverkoperboek, Liefde Maak Nie Seer Nie, wat haar intellektuele standpunt oor die liefde onderskryf, hoewel haar lang en gelukkige huwelik met Ben (Marius Weyers) dit weerspreek. Hul enigste kind, Christiaan (Roelof Storm), moes in sy grootwordjare staatmaak op die liefde van sy “tweede ma”, die lojale huiswerker Fy Abrahams (Shaleen Surtie-Richards).

Twee Grade

Aleksa onderneem om deel te wees van ’n dokumentêre werklikheidsreeks, waarin daar gefokus word op haar terapeutiese werk onder vroue wat liefde met pyn verwar, en een van haar pasiënte, Tanya Basson (Hilda Cronje), stem in om die proefkonyn te wees.

Ben kry ’n massiewe hartaanval en Tanya kom terselfdertyd by Aleksa se huis aan met die nuus dat sy haar kêrel tydens ’n gewelddadige argument vermoor het. Aleksa besef dat sy Tanya se emosionele toestand heeltemal onderskat het en op dieselfde tyd deel Ben haar mee dat hy ’n belangrike besluit oor sy eie toekoms en lewe geneem het.

Soos wat die verhaal vorder word Aleksa gedwing om haar eie integriteit te bevraagteken en ook haar bereidwilligheid om opofferings te maak vir dié waarvoor sy lief is. Op die ou einde moet sy die vraag antwoord: Wat sal die liefde doen?

“Prinsloo en Weyers is twee talentvolle akteurs wat skyn in hierdie komplekse rolle om die ware en moeilike natuur van liefde op die silwerdoek te vertolk,” sê Helen Kuun, besturende direkteur van Indigenous Film Distribution.

Vervaardiger Barry Strick sê: “Hulle het in nog net vier films saam verskyn, waaronder die bekende The Gods Must Be Crazy in 1981. Die laaste keer wat hulle saam in ’n film gespeel het was in 1989, wat Twee Grade van Moord ’n langverwagte reünie van die twee uitmuntende akteurs maak, ’n mylpaal in Suid-Afrika se filmgeskiedenis.”

Prinsloo se verhoog- en filmloopbaan strek oor dertig jaar. Gedurende hierdie tyd het sy hoofrolle in meer as 100 verhoogproduksies, agt vollengte films en talle televisieproduksies vertolk. Sy het ’n reputasie as ’n uitstaande aktrise in baie lande oorsee, insluitend Engeland, Frankryk, Duitsland en die Verenigde Nasies.

De Kat-tydskrif het Prinsloo genoem as een van die honderd mees invloedryke mense in Suid-Afrika, en sy het ook die toekenning vanaf die SA Akademie vir Kuns en Wetenskap ontvang vir haar lewenslange bydrae to teater in Suid-Afrika. Meer onlangs het sy ook haar eie geselsprogram, Sandra op ’n Drafstap, op kykNET aangebied, waarin sy met prominente Suid-Afrikaners onderhoude voer.

Weyers is een van Suid-Afrika se mees bekende en geliefde akteurs. Sy uitstaande optredes op die verhoog en in films het van hom volksbesit gemaak, in Suid-Afrika sowel as oorsee. Hy het reeds in meer as 35 vollengte films en 100 teaterproduksies opgetree. Sy krediete in vollengte films sluit in: Warner Bros se Blood Diamond (Edward Zwick), Catch a Fire (Phillip Noyce), Red Dust, Stander, en moontlik sy bekendste Suid-Afrikaanse rol, in Katinka Heyns se film Paljas. Hy het talle toekennings gewen en is ook vereer met ’n medalje van eer vanaf die SA Akademie vir Kuns en Wetenskap vir sy bydrae tot teater.

Die fliek sluit ook ander plaaslike gunstelinge in, soos Shaleen Surtie-Richards, welbekend vir haar hoofrol in die 1988-film Fiela se Kinden as Ester (Nenna) Willemse in the M-Net-sepie Egoli.

Twee Grade SHar

Twee Grade van Moord is vervaardig deur Barry Strick van Inverse Films en Full Faculty Films in samewerking met Waterfront Film Studios en die Department van Handel en Nywerheid. Die fliek word versprei in Suid-Afrika deur Indigenous Film Distribution.

Comments are closed.